Jou hande sing oor my volrond lyf
wyl ek
blootgestel,
jou asem sien
jou menswees drink
Jou hande neurie oor my sag-warm lyf
wyl jou menswees
oor my breek
jou siel in my
oë sing
jou sagtheid my oopbreek
en jou menswees
my besit
Jou hande sing oor my
menswees
en ek
ongeskryfde simfonie
leef …
polsend
wagtend
vervul
—o0o—
Kennis van goed en kwaad
het verander . . .
seer dinge het diep geword
en wat diep was, is uitgehaal
gewas
vrygestel.
Vrees het plek gemaak . . .
Plek vir nuwe begin
nuwe geloof en
‘n diep wete dat
Jy . . .
my spieël siel,
wag
– om my te leer
van goed en kwaad
van vrees en geloof
van geloof en liefde . . .
En ek weet
diep, waar liefde
nes geskop het in my siel,
dat goed en kwaad my deel is,
my skadu my altyd na die lig sal lei –
Jy. . .
—o0o—
Die sekelmaan wink
en Mars lag speels
sy punt slepend op die
hartklop van nou
sy asem wasig
wyl my skanse oop
le
my hartklop
die maan vooruit
hardloop en
my siel
sy strale gooi
op die landskap
van jou menswees
…jy drink my in
en spuug my terug
die sirkel
boeppens vol
belewenis
belofte en
beloning