Kosmos-onthou

spiëel-blink
koud
en silwer-dof
wag
my skottel-leeg hart
vir jou,
jy wat eens
warm in my wese
gerys het . . .
jy.


---o0o---


Jy . . .
Wat een kosmos Maart-dag
die stuifmeel van my blom kom
blaas het,
my oë kom lag het,
my hart kom lewe het.
Sewe-jaar jy
wat met taai-seer vingers
my siel nog lees
terwyl my woorde soos ‘n
vol hysbak
stil
in my mond skommel –
wat my seer telkens weer
in dieselfde oë blootlê
en die woorde klank laat kry –
Ek wens ek kon vir jou . . .


---o0o---


Ek huil vanaand oujaar trane
vir die woeker-kosmos
wat oorgee en hulle koppe hang
hul boesems swaar van die
saad van more
soekend – na ‘n brakland van liefde
om in te groei en aan te raak

Ek huil vanaand oujaar trane
vir die woeker-saad wat
die leemte van ‘n doodgebore
blom ken . . .
die dofgrys van die stil-pienk
en die grou van die stom-wit –

Ek huil vanaand oujaar trane
vir die woeker-kosmos . . .
afskeidstrane aan dit
wat hulle daar gebring het.


---o0o---


Koue winternag van
my lewe
sluip soos ‘n vlieswit mis om
my hart,
terwyl my siel dit sop-warm
afveg

En ek,

alleen –
so bang,
so leweloos
bly staan.


---o0o---


Steurgarnaal begin,
met vel pienk
sag-hard en sterk
mooi,
het ek op jou lewenskus uitgespoel.

Nou lê ek,
steurgarnaal gekook
sag en willoos en
dofpienk op jou
half-geëete bord

en wag . . .

Die lewenspols klop steeds
die rooi-string bloed rou
deur my hart . . .


---o0o---


jy het
en ek wou
terwyl jy geweet
en ek getwyfel het

jy huil
ek huigel-lag
jy lag
en ek huil

jy het –
aanvaar, miskien
en ek –
ek twyfel steeds . . .


---o0o---


Die kristal-kelk waar my hart eens was
is dan nou leeg –
en dof
die vonkel van die liefdespols is stil
en die kersie-rooi van
vreugde bloed swart en taai.

Waar is dan die suurstof
van jou liefde,
die druppels van jou omgee,
die opvryf glans van
‘n woorde doek?

Waar is die hartklop van my lewe,
waarom die fontein so stil?


---o0o---


Ek is bang vanaand –

Bang vir alleen-wees
Ontnugtering
en nie verstaan.

Hoe kan ek jou vertel van
my
hier diep binne
waar die rooi-vars bloed
kronkelpaaie loop,
met liefdes-suurstof
en omgee vloei –

Hoe vertel van my
moeg-geryde teerpad –
bitter-gang van my
swart-roof siel?